Deel 1: Die nuwe Paradise Park – *Piet se storie

Mening deur Gerard Grobler / Whalecoastreport

FISHERHAVEN – Daar is ‘n bejaarde man doenig onder die afdak by die tent agter die groen seiltjie waaraan die sterk wind torring. Ek kan my nie indink hoe dit moet wees om in hierdie weer in ‘n tentjie te bly nie. Ek beduie hy moet nader kom en ons begin gesels, so deur die hoë draad wat om Fisherhaven se seiljag klub gespan is. Die hek is gesluit  en jy moet ‘n sleutel hê om in te kom, verduidelik Piet*. Piet is 79 jaar oud, maar lyk goed vir sy jare. Hy skryf dit toe aan die feit dat hy nooit gerook of gedrink het nie, en ook dat hy al 45 jaar lank die pad saam met God stap.

Piet woon nou in die tent onder die afdak digby die water saam met sy vrou en seun. Die tent het drie kompartemente vertel hy. Dit is vir meer as R10 000 gekoop deur sy dogter op Worcester toe hulle uit ‘n karavaan elders in die kamp moes trek en geen ander heenkome gehad het nie. Hy is nie bitter nie, allermins. Hy is dankbaar vir dit wat hulle het, vir die kans wat die kampopsigter vir hulle gegee het om onder die afdak in te trek, Nou is hulle ten minste droog. God het ‘n plan met jou, sê hy.

Dis ‘n deurlopende tema vir Piet, van die tyd wat hy kort duskant die dood omgedraai het toe hy 12 was en klem-in-die-kaak opgedoen het. Toe hy na dae weer wakker geword het die dokters by Grootte Schuur na hom verwys as die wonderkind van Hermanus. Hy was ‘n geraamte en moes eintlik dood gewees het. Toe maak hy sy oë weer oop. Die dokter, wie se naam hy nie meer kan onthou nie, staan nader en sit sy hand op Piet se bors en sê: “God het ‘n plan met jou, seun.”

Na sy grootworddae in Sandbaai sluit hy by die spoorweë aan en voltooi na vyf jaar sy ambag. Hy is steeds trots daarop. “Ons het geweet wat om te doen en hoe om dit te doen”, vertel hy.  Toe kom die land se politieke oorgang en hulle moet plek maak vir ander. Hy en 46 ander opgeleide ambagsmanne aanvaar die “pakket”.  Sy mondhoeke trek as hy die woord sê, so asof hy weet dat dit die begin van die ellende was. Hy en sy seun begin ‘n winkel, maar nie lank daarna toe maak daar ‘n Pick ‘n Pay oop wat hy sê tot negeuur in die aand oop is. Nie lank daarna nie, verrys daar ‘n Fruit & Veg. “Wat moet jy nou verkoop,” wil hy weet? Die besigheid is nie lank daarna gesekwestreer.

Hulle het uiteindelik beland in Hermanus se Paradise Park. Piet sê baie van die sowat 30 gesinne wat tans by die sieljagklub woon kom van Paradise Park af. Piet vertel hulle was gelukkig daar. Hy straal met trots as hy vertel van sy tuin by Paradise Park. “Ek het seker een van die mooiste tuine daar gehad. Die grond was net reg.”

“Maar toe kom daai vrou wat die burgemeester was. Sy wou nie teken nie, toe skop hulle ons uit. Ons het alles verloor.” Vir die eerste keer is daar ‘n bietjie bitterheid in sy stem. “As jy dink politici gaan jou vrieskas vol maak, dink weer. Hy is nie kwaad vir die DA nie, maar kan nie verstaan hoekom “hulle daai vrou weer ‘n burgemeester gemaak het nie”.

Piet vertel hulle betaal R3000 per maand vir hulle tent onder die afdak. ‘n Karavaan kos R5000 in die maand. Hy sê hulle kan nie kla nie: “Daar is orde en dissipline, ‘n gevloekery en geskel word nie toegelaat nie. Die badkamers word skoongehou. Die elektrisiteit is nou wel nie heeldag aan nie, maar daarmee leef ons saam. Die elektrisiteit word soggens om agtuur aangeskakel, dan afgesit vir ‘n uur tussen 14:00 en 15:00 en dan bly dit aan tot negeuur vanaand, wanneer dit afgesit word vir die nag.”

*Piet is ‘n skuilnaam. Ons verslaggewer het hom duidelik geidentifiseer as verslaggewer aan die begin van die gesprek en het aangedui dat hy daar is na aanleiding van die vergadering wat Saterdag in Fisherhaven gehou is oor die toekoms van die seiljagklub. Ons het doelbewus besluit om nie fotos van die mense of die omgewing te neem nie.

Deel 2: Die nuwe Paradise Park – wat het die Fisherhaven tender ons geleer?

FISHERHAVEN – Ek het die oorspronklike storie rondom die toekenning van die De Mond en Fisherhaven tenders in Junie 2024 gepubliseer. Ek is na twee jaar steeds oortuig dat daar belangrike tekortkominge, selfs oortredings van munisipale wetgewing was in die proses rondom die toekenning van die tenders. Die tenders is aanvanklik in die hof betwis, maar dié hofaansoeke is sedertdien teruggetrek.

Hoe dit ookal sy, die De Mond tender (vir die volgende 45 jaar) is sedertdien amptelik deur die raad aan Point Caravan Resorts (Pty) Ltd van Mosselbaai toegeken. Die direkteure van die maatskappy is sakevennote van die DA burgemeesterskandidaat, Clinton Lerm. Beide die partye beweer hulle het hulle belange in die betrokke saak verklaar en dus binne die raamwerk van die wet opgetree. Kom ons laat die De Mond tender vir eers en fokus op die Fisherhaven tender.

Point Caravan het ook die tender vir die Fisherhaven Seiljagklub gekry vir die volgende 25 jaar. Hier het dinge egter begin skeefloop. Die munisipaliteit beweer Point Caravan het nie sekere voorskrifte van die huurooreenkoms nagekom nie en dus het die ooreenkoms verval. Toe Point Caravan dreig met ‘n uitgerekte hofstryd, het die munisipaliteit vorendag gekom met ‘n middeweg. Hiervolgens sou Point Caravan ‘n korttermyn huurkontrak van 18 maande kry. Die munisipaliteit verwys nou hierna as ‘n “exit-lease”.  Daar is sedertdien besluit om ‘n nuwe tender vir die sieljagklub uit te reik en die proses van meet af te begin. Dié besluit is nou amptelik deur die raad bekragtig.

By Saterdag se inwonersvergadering oor die seiljagklub het inwoners dit duidelik laat blyk dat hulle voel die munisipaliteit misken hul regte en dat hulle as gemeenskap ‘n belangrike bate ontneem is sonder dat hulle enige seggenskap in die aangeleentheid gehad het. Ek dink die DA-geleide munsipaliteit besef nou die fout wat hulle gemaak het en probeer regmaak. Ons gaan die proses fyn dophou om te sien of dit wel die geval gaan wees, en of dit net oëverblindery is.

Een van die belangrike vrae wat ek dink gevra moet word, is wat die tenderproses in Fisherhaven ons geleer het. Die oorspronklike gedagte was dat die twee stukke grond groter inkomste vir die munisipaliteit moes lewer en so ‘n bydrae maak tot die munisipale geldkas. Die voormalige huurders van die perseel, die seiljagklub, het die perseel vir bykans 50 jaar gehuur en ‘n minimale bedrag per maand betaal. Die klub het wel die geriewe in stand gehou en dit is allerweë beskou as ‘n bate vir die gemeenskap. Soos een van die inwoners by Saterdag se vergadering gesê het: Ons het as kinders in Fisherhaven geslaap, maar by die seiljagklub gelewe.

Nou neem Point Caravan die huurkontrak oor. Hulle is ‘n besigheid en moet in die eerste plek hul koste dek en dan ‘n wins maak. Die huur kos hulle R 33 000 per maand, dan moet hulle nog ‘n kampopsigter en waarskynlik personeel betaal en daar is ook die munisipale rekening om maar net ‘n paar uitgawes te noem.

Met die seiljagklub se mense en die gemeensaamheid weg, is daar net ‘n dop oor. Daar is nie genoeg mense wat deur die jaar daar wil kampeer teen die gewone prys nie, so wat staan hulle te doen? Waarvoor daar wel ‘n aanvraag is, is vir langtermyn kampeerders, hoofsaaklik mense wat dit nie kan bekostig om elders te bly nie.

Die gevolg is dat daar gou 30+ gesinne intrek, baie van hulle voormalige inwoners van Paradise Park wat uit hulle woonplekke geskop is, sonder om werklik vir hulle ‘n alternatief te skep. Hulle het nêrens anders om heen te gaan nie. Maak die som – 30 x R3000 of R5000 pm.

Die seiljagklub is nou vir alle praktiese doeleindes privaat grond. Die hek is gesluit en net mense wat daar woon kan in en uit. Die gemeenskap is reg. Die munisipaliteit mag R20 000 of wat meer in die sak hê, maar die perseel is nie meer ‘n bate vir die gemeenskap nie. Wat was dan die punt? Hoekom het hulle nie net die huur van die seiljagklub opgesit nie?

Point Caravan is nie net sleg nie. Hulle is die enigste mense wat bereid is om verblyf te verskaf vir hierdie groep mense wat uit hulle blyplekke geskop is of nie ‘n dak oor hulle kop het nie. Hulle mag dit om finansiële redes doen, maar hulle doen dit. Ek weet van niemand anders wat bereid is om dié mense te help nie.

Om af te sluit, nog ‘n vraag: Gaan dieselfde nie maar net ook by De Mond gebeur nie.

About the author: editor
The Editor and publisher of Whalecoastreport

What do you think?

Independent news and political analysis
News. Insight. Impact

Comments

No comments yet